Soos bespreek op RSG in Amore Bekker se Tjailatyd: Insetsel 3 Dinge

Jy hoef nie swaar te kry terwyl jy dieet nie.
3 dinge wat jy kan doen in plaas van net swaarkry op jou dieetplan:

1. Hou jou maag vol – dit laat jou brein glo jy het genoeg gehad

Met ander woorde: Eet susters eet! Kies kos wat volume het – jou bord vol maak – en jou maag vol maak. Groente, vrugte, onversoete yogurt.

Jy mag vra hoe op aarde moet ek hierdie klomp goed in my lyf inkry? Dit klink darem baie saai?

Inderdaad nie. Die kuns is – ‘n lekker sousie!

Voorbeeld: In plaas van skoon mayo – meng 1 eetlepel verminderde vet mayonaisse (dit hoef nie eers die slegte suur lae vet mayo te wees nie ) met 1 koppie lae vet bulgaarse yogurt en 1 teelepel heuning. Snipper ‘n paar vars mentblare in of ‘n takkie vinkel en siedaar –‘n sondevrye romerige bedekking vir aartappelslaai, groenslaai of hoenderslaai of selfs rysslaai.

Die tweede ding is

Hou aan beweeg – dit laat jou brein dink jy het geeet!

Wanneer ons beweeg of oefening doen – sit ons ligaam energie, wat gestoor is in die lewer en spiere, om in bloedsuiker om sodoende te verseker dat daar gedurig genoeg is vir die brein. Lae bloedsuiker is ‘n belangrike prikkel vir honger en wanneer jy jou liggaam dwing om self die bloedsuiker te voorsien kan jy so bietjie langer uithou voor die volgende ete. Dus –‘n vinnige stappie voor ete beteken dat jy minder honger voel en jy sal makliker stadiger kan eet – wat weer sal help om jou bloedsuikervlakke stabiel te hou na die ete. Stabiele bloedsuiikervlakke is ook belangrik om die liggaam te help om vet te verbrand. Onthou – as dit by oefening kom, elke bietjie help. Baie van ons is maar baie besig maar beweeg moet ons beweeg! Gelukkig help elke bietjie – 10 minute se vinnig stap drie keer per dag is net so goed soos 30 minute aanmekaar. Klim trappe, loop vinnig as jy loop en speel met die hond of jou kinders as jy tuis kom. Dit is ook goed vir die stresshormone wat jou lyf vet en siek maak.

Die derde ding is

Drink – nee, nie drank nie – drink kaneeltee en gemmertee en gebruik rooibostee om lekker somerdrankies mee te maak. Dit het niks met jou brein te doen nie – maar is goed vir jou lyf! Kaneeltee maak jou selle meer sensitief vir insulien en dit speel ‘n rol by gewigsverlies. Gemmer help jou bloed lekker dun hou – en help jou niere (en sommer jou maag ook ) en rooibostee is ons eie inheemse gesondheidsdrankie wat net so goed werk as groentee – vol van goeie plantstowwe wat ook anti-oksidant funksie het. As jy elke dag 1 koppie gemmertee, 1 koppie kaneeltee en 1 koppie rooibostee drink – sonder melk, net met bietjie suurlemoen en ½ lepeltjie heuning – het jy reeds 750 ml vloeistof ingeneem. Dis ‘n maklike manier om uit te kom by die minimum 1 liter water wat jy daagliks nodig het – ook om gewig te verloor. In kombinasie met die baie groente wat jy nou kan eet met ‘n lekker gesonde sousie – het jy dan nie nodig om jouself te versuip nie…

Vir meer inligting oor dieet, kyk in ons biblioteek na inligting oor gewigsverlies, insulien weerstandigheid en medisinale kosse.
Teken in op ons webblad (R89 per jaar) en dieet saam met ons vóór die somer regtig hier is.

Hoe om in te teken? Registreer>gaan na ‘My log in details’en ‘subcribe’.