Soos bespreek op RSG in Amore Bekker se Tjailatyd: Insetsel 3 Dinge

Hierdie informasie is kardinaal vir u, meneer, u, mevrou en julle kinders! wat ‘n ekstra lagie saamdra…(dit sal dus maklik 50% van Suid Afrikaners wees…)

1. Die skaal sê vir mens niks oor jou vet nie. Mens moet kyk waar jou vet sit.

Vet wat hier om ‘n ou se middel en ook om mens se bolyf is, is heeltemal anders as die vet wat om mens se dye is. Mens sien selfs deesdae jong kinders met ‘n magie of so lekker rolletjie wat peul oor ‘n broek of romp. Wanneer mens se ekstra vetjies om jou middel en bolyf sit, is daar ‘n goeie kans dat jy INSULIEN WEERSTANDIG is.

Insulien weerstandigheid is wanneer die liggaam se normale prosesse om energie te gebruik,versteur is.

Wat is insulien?

Dit is ‘n stof wat in die liggaam afgeskei word, deur die orgaan die pankreas. Die funksie van insulien is om te sorg dat die suiker en stysel en ander koolhidrate afkomstig van die kos wat ons eet, opgeneem kan word en gebruik kan word om vir ons energie te voorsien. Wanneer mens insulien weerstandig word, is dit amper soos ‘n hek – die selle “wyer” om die energie in te laat – hulle bied weerstand teen die insulien wat die energie in die selle moet indra. Die gevolg hiervan is dat die liggaam al hoe meer insulien vervaardig in die hoop dat dit kan werk. Die ironie is, hoe meer insulien – hoe moeiliker word dit vir mens om van hierdie rolletjie, of magie of boep ontslae te raak. Dit word ‘n bose kringloop.

Wat my bring by die tweede punt

2. Vet het ‘n lewe van sy eie – dit is nie net iets wat saamry en swel en krimp soos ons minder en meer eet nie – ongelukkig nie. Vet – veral om die middel en bolyf is aktief – net soos breinselle aktief is. Die vet skei stowwe af wat inmeng in ons liggaam, dit laat ons honger voel, dit meng in met ons hormone en dit meng in met hoe goed ons voel en óf ons depressief voel of nie.

Wat my bring by die derde ding

3. Vet is jou vyand. Nie net omdat dit ons nie mooi en goed laat voel nie, maar omdat dit ons SIEK maak. Dit maak ons lyf siek en vol skete, dit maak ons kop siek en dit maak ons moeg. Ja, baie mense sukkel met hulle gewig –nie omdat hulle sleg is nie of nie hard genoeg probeer nie – maar omdat hulle INSULIEN WEERSTANDIG is.
Moenie langer wonder oor die rolletjie of boep nie – dit is nie skadeloos nie – ook nie in kinders nie en moet aandag kry – net soos ‘n longontsteking of ‘n allergie moet aandag kry.

Onthou net, die vet om mens se middel en maag het nie binne ‘n week homself daar tuisgemaak nie – en jy gaan verseker nie vinnig van hom ontslae raak nie. Laat die saak dus nou maar daar vir die jaareindfunksie. Om nou te probeer om vinnig 5 kg te verloor gaan jou net laat voel soos ‘n mislukking. Negatiewe emosies maak ook vet.

Maar

maak dit ‘n nuwejaarsvoorneme om jou vet beter te leer ken sodat jy die baas daarvan bly. Die enigste manier wat mens jou vyand kan oorwin is as jy hom ken.

Lees meer oor insulien weerstandigheid, metaboliese sindroom, insulien weerstandigheid in kinders, oorgewig en gewigsverlies in ons biblioteek. Teken in en kry toegang tot gebalanseerde dieetinligting, maaltydplanne en meer. (Klik op Subscribe links bo op hierdie blad).
Gebruik gerus die WAIST INDICATOR in die HEALTH TOOLS afdeling om te bepaal of jy ‘n kandidaat vir INSULIEN WEERSTANDIGHEID is of nie.