Soos bespreek in Amore Bekker se Tjailatyd

(Laai gerus die aangehegte dokument onderaan die bladsy af indien u van lyn af wil lees of die informasie wil aanstuur vir iemand anders.)

Meeste mense geniet soetigheid – sommige meer as ander – maar dis deel van menswees om soetigheid op ons tong te geniet. Moedersmelk is soet, niemand raak liries oor suur druiwe nie en soetigheid ‘n groot troos as mens se hart so bietjie seer is… en dit is goed so… die lewe kan bitter genoeg wees…

‘n Gedurige belustigheid vir soetigheid is egter ‘n ander saak – en kan dui op ‘n liggaam wat uit balans is. Onbeheersde lus vir soetigheid – en groot hoeveelhede soetigheid wat verorber word, moet die rooi ligte laat flits – jy is moontlik in ‘n giftige spiraal vasgevang!

3 Dinge om die “TE” uit jou soetlus te neem:

Een:
TE VEEL

Onthou – onbeheersde lus vir soetigheid kan dui op ‘n chemiese wanbalans in die brein – wat sal beteken dat jy onbeskaamd gedryf word na die suikerpotte! Onblusbare lus en zero beheer oor soetigheid is jou liggaam se manier om HELP! te skree. As jy boonop moeg en tam voel of net nooit ‘n ons kan afskud nie, stel ondersoek in – hoe gaan dit met jou gemoed? Eet jy miskien net gewoon te min? of het jy miskien te veel insulien in jou bloed?

Twee:
TE SOET

Dis nie nodig om die soettande te trek nie – ons is so geskape – maar daar was nie rakke en rakke vol lekkergoed in die Paradys nie – en daarom moet mens jou soettande her-programmeer.

Hoe doen mens dit? Soet vir Jan en soet vir San is nie dieselfde nie. En as San gewoonlik meer soet as Jan eet – gaan sy ‘n behoefte hê aan soet wat TE soet is. ‘n Mens kan egter die soet knoppie se volume so bietjie afdraai. Een manier is om soetigheid te eet wat ‘warmer’ is. Ja – die mens se brein ervaar “warm soet” as meer soet as “koue soet”. Dus – die soetigheid van goeie sjokkelade wat in mens se mond smelt (en nét goeie sjokkelade smelt regtig in mens se mond…) gaan soeter proe as koue koeldrank of roomys se soet. Probeer bietjie warm geroosterde vrugte met kaneel, neute en heuning na ‘n maaltyd. Gestoofde appel met ‘n knerts room en kaneel of gestoofde vrugte (lemoene, perskes, druiwe en selfs pere werk lekker) en dubbel Griekse jogurt werk ook lekker. Hierdie warm soetigheid sal jou vinniger “tevrede” laat voel – eerder as ‘n yslike bak roomys waarvan mens nog en nog kan eet – want die tong kry net nie geproe nie…

Drie:
TE GOEDKOOP

Kunsmatige versoeter is goedkoop – dieetkoeldrank, “LITE” produkte en selfs deesdae aartappel tjips met geure soos blatjang – moet soos gif vermy word want in al hierdie produkte word die goedkoper alternatief tot suiker – kunsmatige versoeters, gebruik. Navorsing wat in Januarie gepubliseer is het vir die eerste keer ‘n direkte verband gewys tussen kunsmatige versoeters en oorgewig. Oorgewig hou natuurlik weer verband met vele siektes – ook diabetes en hartsiekte.
Nou hoe gemaak om dan sonder hierdie lewelose kunsmatige soet klaar te kom? En hoe gemaak as mens ‘n diabeet is?

Probeer jouself geleidelik speen van produkte wat kunsmatige versoeter bevat en kyk met meer aandag na al die produkte in jou koskas wat GLUKOSE op hulle etiket aandui. Wanneer dit by soet kom, moet mens dink soos ‘n koning – net die beste is goed genoeg!

Geniet eerder gereeld – ja – elke dag is goed – iets regtig spesiaal. Net die beste sjokkelade, net die lekkerste suiwelroomys – net die rypste, lekkerste vrugte, net die lekkerste koekies gemaak met bestandele soos uit ouma se kombuis. Die soetigheid waaraan mens jouself verlustig moet so duursaam wees dat mens regtig net ‘n klein porsie kan bekostig… want soetigheid word net ‘n tameletjie wanneer daar “TE” vooraan is. TE goedkoop, TE veel, TE soet!

Probeer gerus ons wenke vir “natuurlike” soetigheid (in die ‘HEALTH TOOLS’ afdeling of kry ‘n eetplan wat voorberei word om vir jou te werk in die SERVICES afdeling.

Registreer gerus vir ons nuusbrief en ontvang gereelde brokkies oor lekker eet, reg eet en meer…

3 Dinge – is jou soettand regtig sonde?