Soos bespreek op RSG in Amore Bekker se Tjailatyd: Insetsel 3 Dinge

‘n Mens kan tereg vra – is daar iets wat werk?

Selluliet affekteer tot soveel as 80 – 90 % van alle vroue.

Verskeie behandelinge is beskikbaar – meesal in die vorm van rome en ander wat aangewend word en dan word laser en fisiese masering ook gebruik. Sommige is meer suksesvol as andere – maar geeneen blyk tot dusver permanent suksesvol te wees nie.

Die behandeling van selluliet van buite af met rome en masering mik hoofsaaklik op verbetering van sirkulasie.

Die ander faktore wat ‘n rol speel by die ontwikkeling van selluliet is inflamasie en vet. Dit word nie aagespreek deur enige gel of room of masering tegniek nie.

‘n Mens kan hierdie aspekte – sowel as sirkulasie aanspreek met ‘n paar maklike dieetaanpassings.

Sekere voedsel soos suiker en voedsel wat bloedsuikerpieke veroorsak sowel as vetinname kan bydra tot die proses van inflamasie in die liggaam. Lees meer oor BLOEDSUIKER asook VET in die biblioteek afdeling. Intekenare (Subscribers) tot die webblad verkry toegang tot die dieetgids (Diet Guide) afdeling waar handige wenke beskikbaar is om bloedsuiker pieke te help vermy. Inligting is ook beskikbaar wat mens kan help om die regte tipe vette te eet.

Kom ons kyk na 3 dinge wat jy kan doen om om jou sirkulasie te verbeter:

1. Drink ‘n koppie gemmertee elke dag.

Sny ‘n stukkie vars gemmerwortel so groot soos jou duim se lit in skyfies en laat trek dit in ‘n teepotjie of warmfles met so 250 ml kookwater. Dit is heerlik verfrissend en help om bloed dun te hou. (Lees meer oor medisinale voedsel in die biblioteek afdeling).

2. Goeie sirkulasie vereis gesonde bloedvate. Vitamiene C is kardinaal vir gesonde bindweefsel en bloedvate. Ongelukkig is vitamiene C is maar pieperig – en gaan maklik verlore as dit aan hitte en lig blootgestel word. Die wonder van die natuur is dat Vitamiene C in voedsel “helpers” het – soos die flavenoied voedingstof hesperidien wat mens veral in sitrusvrugte kry. Om dus seker te maak mens kry genoeg vitamiene C moet mens nie na ‘n pilhouer gryp nie maar na lemoene, naartjies, koejawels, bessies soos bloubessies en bosbessies, druiwe, veselperske, spanspek en papaja. Addisioneel tot die vitamiene C gaan mens sommer op die koop toe ook ander belangrike voedingstowwe en anti-oksidante inkry wat nie net goed sal wees vir bloedvate en sirkulasie nie – maar ook anti-inflammatories kan wees. Inflamasie word ook genoem as bydraende faktor in die ontwikkeling van selluliet.

3.’n Derde ding vir goeie sirkulasie is: genoeg vloeistof – en nee, dis nie nodig om 12 glase water per dag af te wurg nie. Vir almal wat sukkel met genoeg water drink – doen die volgende: Eet baie vars vrugte en groente – dit dra by tot mens se totale vogbehoefte. Drink dan daarby ook sommer nog ‘n koppie gemmertee – dit kan net goed wees en een of twee koppies gewone tee en een of twee koppies rooibostee. Verminder of vermy suiker en vervang eerder met ‘n klein bietjie heuning. Dit bring mens by 8 glase plus die groente en vrugte – en dan bly daar net 2 glase ‘water’oor. Water wat mens filter met ‘n beker filter of kraangemonteerde filter is lekkerder as kraanwater (tensy mens gelukkig genoeg is om self ‘n waterbron te hê). Mens kan ook altyd ‘n okasie maak van water drink – en jouself bederf met ‘n lekker glas sprakelende water.

Terwyl jy baie geld spandeer om jou sirkulasie en vel van buite af te behandel – moet nie nalaat om jou sirkulasie, bloedvate en vel van binne af te ondersteun nie.

Besoek gerus ons ‘SERVICES’ afdeling vir ‘n individuele evaluasie en konsultasie.