Basiese Beginsels van ‘n Alkalies-As Eetpatroon
(Die AS verwys na die ‘reste’ nadat die voedsel volledig verteer is)
Die handhawing van liggaams pH word effektief beheer deur komplekse meganismes via o.a. die niere, lewer, maagsuursekresie en asemhaling.
Voldoende voedingstowwe beïnvloed egter die effektiwiteit en gemaklikheid waarmee die liggaam hierdie balans hou.
Hier is ‘n paar maklike veranderinge wat alle mense kan help om meer ‘ alkalies’ te lewe. In plaas daarvan om te probeer om net die ‘suur’-vormende voedselsoorte uit te skakel, is dit kardinaal om te konsentreer om die alkaliniserende voedselitems in jou dieet te verhoog.
Daar is geen manier om te voorspel watter presiese kombinasie van voedselsoorte in ‘n persoon ‘n meer suur of meer alkaliese uiriene pH tot gevolg sal hê nie. Daarom is dit belangrik om breë beginsels toe te pas.
Basiese Rigtingwysers
• Beperk verfynde kosse – ook LOW GI opsies – soveel moontlik. Dit sluit in brood, kitsontbytgraan, pasta, koekmeel.
• Beperk verwerkte kosse – vleis/souse/klaarvoorbereide produkte – veral dié wat preserveermiddels bevat, soveel moontlik.
• Matige porsies van kwaliteit, onverwerkte diereprodukte (vleis/kaas/eiers/vis/hoender) kan in kombinasie met groot porsies groente geniet word.
• Vrugte is kardinaal as deel van ‘n gesonde eetpatroon. Waar mense reeds bloedsuikeronstabiliteit het (diabetes of insulienweerstandigheid) moet die porsies per keer beperk word en versprei word deur die dag. Dit is ook raadsaam om dit dan te kombineer met ‘n handvol neute of klein porsie proteïene.
• Neutrale voedselitems soos botter, olies kan as deel van mens se daagslike patroon geniet word in klein hoeveelhede.