‘n Leser se opsomming van DIK VIR DIEET (Naledi 2015) deur Mariza van Zyl RD

November 2015, Paarl

“Niks werk nie!” Die eerste sin in Dik vir Dieet (Naledi, 2015)) verwoord die bekende uitroep van almal wat al die skaal op ‘n Maandagoggend weggeskop het. En asof die skaalstryd nie genoeg is nie, hoe moet ‘n mens ‘n ingeligte besluite oor voedsel en voeding neem as elke tweede persoon deesdae ‘n opinie daaroor het?

In ‘n see van teenstrydige en aanmatigende opinies, is Dik vir Dieet heerlik en vars, heil- en voedsaam. ‘n Rigiede dieet is dit beslis nie. Geen swart-en-wit denke vol moets en moenies, duur volksvreemde produkte wat net in spesialiteits winkels beskikbaar is of voorskriftelikhede nie.

Soos Mariza dit self stel: “….’n mens kan baie puristies wees oor jou koskeuses en byvoorbeeld poog om alles self voor te berei, net organies te koop en een eet en nie jou mond aan enige verwerkte kosse te sit nie. Om so te leef kan maklik in ‘n voltydse werk ontaard”.

Maar wat maak Dik vir Dieet anders as die honderde ander boeke, blogs en artikels oor die onderwerp? Waarskynlik die feit dat dit navorsing, resepte, raad, gevallestudies en ‘n gesonde skeut “myth busting” moeiteloos en verteerbaar meng: eenvoudig, maklik leesbaar en gegrond op bewese navorsing. Maar – dit neem ook die realiteite van elke unieke mens se leefwêreld in ag.

As wetenskap en detail-inligting jou ding is, het Dik vir Dieet voetnota’s met gedetailleerde tegniese inligting op sekere bladsye wat jou uitdaag om beter te verstaan waaroor kos en gesondheid nou eintlik gaan. Tesame met die grotendeels praktiese benadering, word jy bemagtig om werklik ingeligte besluite te neem oor kos en kan jy ontsnap uit die geklits van die magdom verwarrende inligting wat beskikbaar is rondom kos, gewig, gesondheid en dieet. Moontlik ken jy die gevoel – jy het meer inligting tot jou beskikking as ooit tevore maar voel eintlik dat jy minder en minder weet?

In DIK VIR DIEET word geen heilige koei onaangeraak gelaat nie – pro- en prebiotika, laktose- en gluten intoleransie, margarine of botter, hoë proteien, laevet, lae koolhidrate, Paleo of Meditereens…. Hoewel geen benadering afgeskiet word nie, is daar genoeg inligting oor elk dat jy self kan besluit…

En dit lees so lekker! Die storie agter die kosstorie was nog nooit so aptytwekkend nie. ‘Oondgebakte vrugte-krummel’ , ‘ lekker sondagmiddageenbakgereg’, ‘rooirissiesop’, ‘ietsie op ‘n broodjie’…

DIK VIR DIEET is nie ‘n resepte boek nie – maar gee lekker resepte om BeterEet prakties doenbaar te maak. ‘n Spyskaartvoorbeeld is ingesluit vir indien jy wil gewig verloor gee lekker praktiese wenke hoe jy byvoorbeeld koolhidrate kan verminder as jy iemand is wat beter doen wanneer jy minder koolhidrate eet óf minder of meer vet – maar beter vetkeuses wil maak. Jy word ook sommer herhiner om solank van jou voor-af voorbereiding vir die volgende dag af te handel terwyl jy in die kombuis is…’n Sinvolle inkopiegids maak veranderinge vir BeterEet amper moeiteloos!

Nerens in hierdie boek word die tipiese dieetreeëls – ‘ryskoekie met maaskaas’ as ‘n ete of met-of sonder- botter-in-jou-koffie voorgehou as wet om gesondheid te verseker nie. Inteendeel word jy gewys hoe om alledaagse bestandele – ‘n heerlike verwysings na ‘‘n lepel kokosneutroom’ ‘warm appel met ‘n strooisel kaneel,’ of “meellose sjokolade muffins met bietjie versiersuiker bo-oor gesif” deel te maak van ‘n voedsame eetbenadering.

Sonder om dogmaties te wees, word hierdie krities belangrike beginsels in Dik vir Dieet onderstreep:

  1. Die wisselwerking tussen kos en gesondheid is baie meer ingewikkeld as lae of hoë vet of koolhidrate.
  2. Daar is meer as een manier oom die regte dieet te benader.
  3. Balans is ‘n veilige hawe.
  4. Jy moet vandag ingelig wees om die regte koskeuses te kan maak.

Dik vir Dieet is ‘n wenresep vir ‘n intelligente, gebalanseerde, prakties bevrydende kosfilosofie propvol wetenskaplike, nuttige en selfs humoristiese kos-doen-dit-so-dinge.

Mariza se ervaring as Terapeutiese Dieetkundige en haar empatie met die mens agter die voedsel dilemma, tesame met haar holistiese benadering tot voedsel en voeding, verseker dat Dik vir Dieet ‘n handleiding is waarvan elke huishouding ‘n kopie behoort te hê.

Jy kan vanmiddag nog ‘n gesonde sjokolade muffin (of 2!) vir teetyd geniet EN bewyse hê dat dit goed is vir jou! Sonder skuld.