Soos bespreek in Amore Bekker se Tjailatyd op RSG

Inderdaad – die avo – n vrug naverwant aan kaneel en kamfer – het vele medisinale eienskappe.
Gedurende die 80’s en 90’s is alle voedselvet gebrandmerk as ‘ gevaarlik’, vetmakend en ongesond.
Gelukkig dui narvorsing die afgelope paar jaar al meer op die belangrikheid van vette van plantaardige oorsprong – soos die vet gevind in avokado’s.
Die soort vet wat mens eet beïnvloed elke sel in die liggaam – en ook die manier wat selle funksioneer en met mekaar ‘kommunikeer’.
Selle wat nie reg funksioneer nie speel ‘n rol in die ontwikkeling van vele toestande – diabetes, cholesterol, oorgewig, insulienweerstandigheid en selfs veroudering.
Dit maak dus sin om te belê in gesonde vette in mens se dieet – om gesonde selle te bou – om gesonde metabolisme en werking in die liggaam te ondersteun.
Die voordele hiervan is legio!
‘n Studie gedoen deur navorsers aan die Universiteit van Potchefstroom (nou Noordwes-Universiteit) het in 2005 bevind dat mense op dieet wat elke dag ‘n avocado geëet het, meer gewig verloor het as hulle eweknieë wat die normale ‘lae vet’ roete gevolg het – sonder die avokado’s.
Dis lekker nuus – en natuurlik maklik in die winter wanneer avokado’s vollop en bekostigbaar is.
‘n Sny roosterbrood met lekker dik avokado, bietjie suurlemoen, sout en peper is tog heelwat meer interessant, lekker en bevredigend as dieselfde snytjie brood met ‘n dun smeerseltjie ‘lae vet’ smeer – vermom as botter….