Het jy al ooit gewonder waarom jy nog steeds honger is na die klein – maar ‘korrekte’ happie? En gedink oor redes  waarom die ‘kleinbordjie’ -dieet nie vir jou gewerk het nie?Small Chef Salad

Honger en versadiging is heelwat meer kompleks as bloot die gedagteproses: ek moet nou ophou eet. Die proses van vertering begin reeds wanneer mens dink aan kos of dit ruik.

Soos mens kou en sluk, word prosesse in die liggaam geïnisieer wat deel is van vertering. Dit is noodsaaklik om die gebruik van voedingstowwe vanaf kos vir energie, die opbou en onderhoud van spiere en ander weefsel soos bene, vel, hare, naels ens. moontlik te maak.

Twee faktore, wat nie verband hou met die hoeveelheid koolhidrate, proteiene en vette in ons maaltye nie, speel ‘n belangrik rol in hoe versadig mens voel na ‘n maaltyd. Die eerste is die volume voedsel wat mens ingeneem het en die tweede is die deurgang van die voedsel deur die maag na die dunderm.

Wanneer die kos deur die maag beweeg word die afskeiding van hormone/chemiese stowwe geprikkel wat die brein laat ‘weet’ – ek het genoeg gehad!

Omdat die kos DEUR die maag moet beweeg voor die brein die ‘versadig’ boodskap kry, is dit belangrik om regop te sit en te eet (nie te lê nie) en stadig te eet. Anders eet mens heelwat meer – en teen die tyd wat die brein die ‘ versadig’ boodskap gekry het, het mens te veel geëet.

Die ‘volume’ kos wat ons eet het ‘n direkte effek op die mate waartoe die maag rek – wat ook die boodskap brein toe stuur – ‘ek is versadig!’

Dit is waarom ‘n klein slaaitjie – al is dit hoe keurig en mooi, jou nie vreeslik tevrede laat voel nie!

Dis is hier waar sop so handig te pas kom as dieethulpmiddel!

Veral groentesop voorsien heelwat ‘volume’ maar relatief min energie. Dit beteken mens voel versadig – maar sonder om te veel koolhidrate en vette in te neem wat gewigsbeheer kan bemoeilik.

Probeer gerus hierdie maklike, gesonde tamatiesop. Die bestandele is sodanig dat dit jou lekker vol sal laat voel en die bietjie rooipeper kan jou metabolisme so ‘n bietjie van ‘n hupstoot gee.   Kyk ook  gerus na die heerlike brokkoli en amper- soos- botterskorsie-kerrie-sop. ‘n Weergawe vir die somer of warmer weer is hier beskibaar vir intekenare.

Tomatoes on the vine

Geurige Tamatiesop (Genoeg vir 10 porsies van 300 ml)

  • 3 blikkies tamatie in tamatiesap – gekap indien beskikbaar
  • 1 medium ui, gesny
  • 1 pakkie (500 g) klaar gesnyde pampoen (nie butternut nie)
  • 1 blikkie kekerertjies (chick peas) in water
  • 200 g pakkie rosa tamaties
  • 4 groot knoffel toontjies/ huisies
  • 4 teelepels sout
  • 1/2 teelepel rooipeper
  • ¼ Koppie gekapte pietersielie of basilie of oreganum
  • 30 ml olyfolie
  • 400 ml water (gebruik sommer die water om die laaste tamatie uit die blikkies te kry)

Braai uie in die olyfolie tot dit glaserig raak en voeg dan die pampoen/en 1/2 teelepel rooipeper by.  Roerbraai dié so bietjie saam. Voeg dan die blikkies tamatie,  kekerertjies en sout  by.

Laat prut hierdie mengsel tot die pampoen/wortel heeltemal sag is. Verwyder die sop van die plaat en versap. Gooi nou die vars tamaties en kruie en knoffel by en versap weer.

Bedien met ‘n eetlepel bulgaarse jogurt en ‘n vars gekapte kruie/geskeurde basilieblare.

 

Voedingsanalise per porsie

440 kJ

2,5 g proteïene

11 g koolhidrate

3,6 g vet

3,6 g vesel